
Hierdie brief het ek onlangs vir my pa geskryf. Hy is al lank siek. Hy het kanker en in die stadium besef ons die tyd is min. Baie min. Ek sit nie die brief hier omdat ek dink ons storie is uniek nie. Ek hoop bloot dit kan vir die ander oorlewendes iets beteken. Want mens het soms hulp nodig om aan te hou leef en te oorleef.
Pappa
Ek tik sommer. Beter leesbaarheid so. My skrif is maar ‘n onvas besigheid.
Nou ja, ek het gedink ek skrywe maar vir jou iets. Dan kan jy darem iets lekker lees vir ‘n slag. En ons kry nie juis gepraat die laaste tyd nie.
Kyk, ek dink dis een ding om te sê, “eks reg vir die dood”, en heeltemal ‘n ander storie as jy sien, hier kom dit nou. Dis tog ons natuurlike instink om te wil oorleef. Daarom bly dit seker maar die maklikste om skielik oorval te word. Net weg te raak. Ek het toe ek klein was ‘n droom gehad. So vier manne in kopdoeke, daai soort van die ooste, Taliban-affêres, skiet my dood en begrawe my in ‘n vlak gat en stapel als toe met klippe. En om een of ander rede onthou ek tot vandag, wel, vanaand toe nog die droom so goed. Ek onthou dat ek, toe hulle my klaar geskiet het, so half buite my liggaam was. Als kon sien wat toe met my gebeur. Vreemd nê? Nou wonder ek soms of is dit wat gaan gebeur. Maar dit maak nie saak nie. Ek is snaaks genoeg geensins bang vir die dood nie. Ek dink die lewe is die ergste ding waardeur mens kan gaan. En hier sien en beleef mens soms die hartseerste goed. Die grootste pyn. Daarom dat sommige vlug en die dood sommer self kies jy weet. Dis soos die stukkie wat ek verlede jaar op daai Noord-Kaap trip, ag jammer, toer….. geskryf het….
Soms voel mens grys
en dan is daar net niks wat jy daaraan kan doen nie.
Soms voel mens banger vir nou
as vir wanneer jy in die grond gaan vrot.
Nou luister mooi, ek is ook bly om te lewe. Ek het nie planne om te waai nie. Maar ek skat dis goed om jou emosies so oop te gooi. So sien ander normale mense ook dat almal soms ongelooflik seer het. Aan die dood dink. Wonder oor goed. Dis geen uniekheid nie. Maar mense steek soveel weg. Is so min eerlik. Ons is ook so. Ek en jy. Ons het nog altyd ‘n goeie verhouding gehad en vroeër ook nogal heelwat gesels oor dinge, maar ons het nie sommer te veel gedeel nie. En nou ook. Ek meen ons weet nooit presies wat gaan gebeur nie, maar ons moet maar met die beskikbare feite werk, en dit lyk tans sleg. Dit lyk asof daar min tyd is. So ek sê, maak eerder seker als is in orde, dan voel mens ook meer gerus oor dinge. Ons word immers die kans gegun.
(jammer as my chronologie nie lekker vloei nie, dalk doen dit, ek weet nie, als voel maar bietjie vreemd)
Dis ‘n verskriklike ding om die dag te besef jou pa raak oud. Het jy dit ook gevoel met oupa? En dan is dit nog baie erger om te sien hy kan nie meer lekker na homself kyk nie. En die heel ergste is om jou pa in jou arms te tel en hom te dra. Jy word net daar, opslag tien jaar ouer. Die big bang se voet, dis ‘n baie groter gebeurtenis. (Nie dat ek in die big bang glo nie. Ek weet my geloofstoestand is twyfelagtig party dae. Maar daai is snert.)
Ja, ek wil dit maar net noem, dat die laaste tyd vir my erg was pappa. Dis baie sleg en ek kan maar net wens als was anders. Maar daar is so baie goed wat mens wil anders hê. Almal wil heeltyd op kalm waters seil. Maar sien, dis die lewe, ongewaarborg. En geensins regverdig nie. Die grootste korrupte gespuis lewe goed, terwyl die regte goeie ouens (mense soos jy pappa) dit hard tref. Hoe kan mens dit verstaan? Hoe kan mens die skepping verstaan. Hoe kan mens weet wat als nie nog anderkant die sterre lê nie? Hoe sal ons ooit weet wat God presies is? Gees, of mens of gebou of net ‘n wolkagtige skynsel? Dis ons lot as mens. Ons kom hier aan sonder ‘n boekie wat sê hoe als werk en lyk en gaan gebeur. Ons weet amper niks. Ons probeer heeltyd verstaan en sin maak. En dis eintlik die een ding wat ons sommer vroeg moet besef, ons gaan nie als verstaan nie. Sekere goed moet ons net besluit. Soos watter God/god om te dien. Wat ons gaan doen met ons lewens. Met wie ons gaan trou. Of jy nie in iets glo of nie, elke dag word eintlik in geloof gelewe. Die geloof dat dit sal uitwerk, goed gaan, jy genoeg geld gaan maak, gelukkig gaan wees saam met iemand en so meer.
Ek skrywe dalk nou net ‘n klomp wind, maar wat ek eintlik by wil uitkom is die volgende. Moenie vrees nie. Moenie probeer verstaan waarom als so uitgewerk het nie. Ons sal nie nou weet nie. Maar weet dat jy ‘n goeie mens is. Die diepste gelowige wat ek ken. Iemand wat soveel se lewens aangeraak het en help verander het vir goed. Die beste pa. En daarom sal jy beloon word. Want goeie mense word op die einde beloon. Goeie mense gaan nie ongesiens verby nie.
Vir jou pa-wees moet ek jou bedank. Jy het altyd die heel beste vir ons gegun. Groot moeite gemaak en baie geld uitgehaal om ons te versorg. Dankie daarvoor pappa. Dit was nog altyd raakgesien. En as ek nou terugkyk op my lewe sien ek dit steeds raak. Jammer dat dit te min vir jou gesê is.
Ek is dankbaar vir die baie vure wat ons oral gemaak het. Jyt my die reisiger gemaak wat ek vandag is. Dis wonderlik.
Ek weet ‘n ouer het seker ‘n idee van die persoon wat hy of sy wil hê die kind moet wees. En so het jy ook sekere gedagtes gehad van hoe jou seun eendag gaan wees. Wie hy gaan wees, wat hy gaan doen. Ek weet ek is nie heeltemal die verwesenliking (is dit ooit ‘n woord?) van daai gedagte nie. Ek struikel soms oor sekere geloofsdinge, ek trek vreemde hempde aan, soms is my hare lank, ek sukkel om ‘n meisie te kry, ek boer nie, ek luister rock musiek. Maar pappa, ek kan vir jou met alle eerlikheid sê, ek is ‘n goeie mens. Ek soek net goeie dinge en vrede vir die mense om my. Eks lief vir hulle. En vir die natuur. En dis dinge wat jy vir my geleer het. So, jou opvoeding was uiters geslaagd. Moet nie daaroor twyfel nie. En moenie jou bekommer oor my nie. Ek is eintlik ‘n rustige wese en soek net die goeie en die waarheid.
Ek het jou nog nooit veroordeel oor enigiets wat jy gedoen het nie of wat met ons gebeur het nie. Ek dink jyt puik gevaar in baie moeilike omstandigehede baie keer. Ek kyk op na jou.
Met baie liefde.
Jou seun
Willem.