genesis

die pad was smal
die horison ‘n nou gaping
teen ‘n heelal se swart

‘n bergwind het
koud
met sy doodsfluister
uit ‘n grot gekruip

ons planeet het stotterend
vorentoe geruk

en toe het sy
buiteruimtelik kalm
in die son gaan staan
en gesê
“laat daar lewe wees”

13 April 2011.

13 April 2011.

maak toe jou oe en vlug.

Oom Coenraad het Dinsdag kom kuier. Ek het die naweek laat weet dit gaan nie goed met my pa nie en Dinsdag was oom Coenraad en tannie Susan hier. Al die pad uit die diep Kalahari. Blou-ver, soos oom Coenraad reeds altyd beduie.

Ek het oom Coenraad buite die hospitaal gekry, by my motorfiets.
“Nee goeiste, hiert ek nou amper geverdwaal. Maar toe sien ek darem die geel mouterbike toe weet ek, eks weer reg.”
Oom Coenraad ken my oranje KTM. Ek het nou die dag met hom daar by hulle op Elliot tussen Upington en Olifantshoek gekuier. Oom Coenraad en sy broers en my pa het baie goeie vriende geraak toe ons vir ’n paar jaar daar in die Kalahari was. Ek en oom Coenraad se seuns het ook goeie vriende geword. Ek en Coenie en ou Benna. Veral ek en Benna. Soos Dawid en Goliat het ons gelyk, maar dit was darem eerder ’n Dawid en Jonatan-verhouding. (Ek is die klein een van ons twee vir die wat nou daaroor wonder)

“Wat kan ek sê?” sê oom Coenraad.
“Ons kom so lang pad. As die een man gaan moet die ander man maar kom groet.”
Hy vroetel met sy twaksakkie. Die groet is nie vir hierdie man van die moordende Kalahari-son maklik nie.

“Dous hulle hom darem pyngoed?” vra hy terwyl ons aanstap deur saal 21 na kamer 10 toe.
In kamer 10 steek die Kalahariboer vas voor my pa se bed. Hy haal sy laphoedjie van sy kop af, steek daai bruingebrande arm uit en sê, “Ai dominie, dis vir my vreeslik sleg om jou hier te kom kry, maar hier is ek nou.”
Oom Coenraad gaan sit daar langs die bed. Hy vee oor sy kop. Die hare is yl en wit. Sy regterhand se duim en wysvinger swart van die pyp stop.
“Hierdie vingers is swart, maar hulle is nie vuil nie. Daars nie ‘n inkele kiem op hierdie vingers nie.”

Met sy diep, maar eenvoudige geloof in sy God en Bybel het oom Coenraad die rolle omgeruil nou die middag.
“Kyk dominie, jy het altyd met my gepraat, maar vanmiddag praat ek met jou. Ons weet die Here kan jou nou uit hierdie bed laat opstaan. Dis hoe magtig Hy is. Kyk vir Lasarus. Moses weer het sy hele lewe opgeoffer om die volk die beloofte land in te lei. Maar hyself kon nie in nie. Ons verstaan dit nie. Maar so het God klaar elke man se pad uitgewerk. Gelukkig weet ons darem die tyd hierna is baie beter. Anders sou almal seker net hier wou bly.”

Om hierdie laaste tyd meer draaglik te maak is daar ook raad voor.
“Maak toe jou oë en gaan sit daar langs jou bosveldvuur. Terwyl jy jou verstand het kan jy uitvlug. Daar’s baie beter plekke waar jy liewerster heen kan gaan as om hier te lê.”

My pa raak opgewonde oor die vuur. Hy vertel vir oom Coenraad hoe graag hy nog wou Wildtuin toe en dat hy hulle wou saamnooi.
“Ja, so doen mens nooit die goed wat jy moet nie. Altyd skaap om te dous of te dit en te dat. Skaap sal mens altyd dous. Mens moenie daai belangrike goed so los nie. Kyk nou…”
Daar kom fluite uit my pa se bors en hy beduie na die suurstofmasker.
“Janee skep maar so bietjie daar dominie. Ek en Willem gaan nou eers rook. As ek nie nou rook nie gaan ek ophou rook.”

As ons weer terugstap na kamer 10 toe skud oom Coenraad sy kop.
“Hierdie is maar ’n kiemnes. Julle moet jou pa hier uitkry, so vinnig as moontlik.”

Terug langs die bed moedig oom Coenraad my aan om te trou.
“Nee man, ’n man moet trou. Al baklei mens maar soms en al verstaan julle nie mekaar nie, mens moet die ou nageslaggies laat aangaan. Al trou jy net vir dit, is dit ook reg. Jy moet sorg dat daar ’n klein Van der Bergie is eendag. Ek sê dit nou sommer hier voor jou pa. Ek hou jou dop.”

Dan skrou daar skielik ’n jakkals verwoed uit oom Coenraad se hempsak uit. Hy ruk sy selfoon nader.
“Jis ek skrik elke keer so vir die ding. Maar dis al wat sorg dat ek oombliklik my foon antwoord. Ek het nou al allerhande liedjies probeer, boeremusiek en dit en dat, maar dan dink ek net, ‘waar speel die draadloos nou so?’. Hierdie jakkals laat skrik my groot, maar ek antwoord dam.”

Maar ja, oom Coenraad het ongelukkig nie vir ewig kom kuier nie. Al wens ek hy kon hier wees om saam met my pa langs daai vuur te sit tot hy na “die beter plek” toe gaan.
“Goed dominie, ek hoop jy kan vanaand daar in die bosveld wees.”

‘n brief oor die lewe.

Hierdie brief het ek onlangs vir my pa geskryf. Hy is al lank siek. Hy het kanker en in die stadium besef ons die tyd is min. Baie min. Ek sit nie die brief hier omdat ek dink ons storie is uniek nie. Ek hoop bloot dit kan vir die ander oorlewendes iets beteken. Want mens het soms hulp nodig om aan te hou leef en te oorleef.

Pappa

Ek tik sommer. Beter leesbaarheid so. My skrif is maar ‘n onvas besigheid.
Nou ja, ek het gedink ek skrywe maar vir jou iets. Dan kan jy darem iets lekker lees vir ‘n slag. En ons kry nie juis gepraat die laaste tyd nie.

Kyk, ek dink dis een ding om te sê, “eks reg vir die dood”, en heeltemal ‘n ander storie as jy sien, hier kom dit nou. Dis tog ons natuurlike instink om te wil oorleef. Daarom bly dit seker maar die maklikste om skielik oorval te word. Net weg te raak. Ek het toe ek klein was ‘n droom gehad. So vier manne in kopdoeke, daai soort van die ooste, Taliban-affêres, skiet my dood en begrawe my in ‘n vlak gat en stapel als toe met klippe. En om een of ander rede onthou ek tot vandag, wel, vanaand toe nog die droom so goed. Ek onthou dat ek, toe hulle my klaar geskiet het, so half buite my liggaam was. Als kon sien wat toe met my gebeur. Vreemd nê? Nou wonder ek soms of is dit wat gaan gebeur. Maar dit maak nie saak nie. Ek is snaaks genoeg geensins bang vir die dood nie. Ek dink die lewe is die ergste ding waardeur mens kan gaan. En hier sien en beleef mens soms die hartseerste goed. Die grootste pyn. Daarom dat sommige vlug en die dood sommer self kies jy weet. Dis soos die stukkie wat ek verlede jaar op daai Noord-Kaap trip, ag jammer, toer….. geskryf het….

Soms voel mens grys
en dan is daar net niks wat jy daaraan kan doen nie.
Soms voel mens banger vir nou
as vir wanneer jy in die grond gaan vrot.

Nou luister mooi, ek is ook bly om te lewe. Ek het nie planne om te waai nie. Maar ek skat dis goed om jou emosies so oop te gooi. So sien ander normale mense ook dat almal soms ongelooflik seer het. Aan die dood dink. Wonder oor goed. Dis geen uniekheid nie. Maar mense steek soveel weg. Is so min eerlik. Ons is ook so. Ek en jy. Ons het nog altyd ‘n goeie verhouding gehad en vroeër ook nogal heelwat gesels oor dinge, maar ons het nie sommer te veel gedeel nie. En nou ook. Ek meen ons weet nooit presies wat gaan gebeur nie, maar ons moet maar met die beskikbare feite werk, en dit lyk tans sleg. Dit lyk asof daar min tyd is. So ek sê, maak eerder seker als is in orde, dan voel mens ook meer gerus oor dinge. Ons word immers die kans gegun.

(jammer as my chronologie nie lekker vloei nie, dalk doen dit, ek weet nie, als voel maar bietjie vreemd)

Dis ‘n verskriklike ding om die dag te besef jou pa raak oud. Het jy dit ook gevoel met oupa? En dan is dit nog baie erger om te sien hy kan nie meer lekker na homself kyk nie. En die heel ergste is om jou pa in jou arms te tel en hom te dra. Jy word net daar, opslag tien jaar ouer. Die big bang se voet, dis ‘n baie groter gebeurtenis. (Nie dat ek in die big bang glo nie. Ek weet my geloofstoestand is twyfelagtig party dae. Maar daai is snert.)
Ja, ek wil dit maar net noem, dat die laaste tyd vir my erg was pappa. Dis baie sleg en ek kan maar net wens als was anders. Maar daar is so baie goed wat mens wil anders hê. Almal wil heeltyd op kalm waters seil. Maar sien, dis die lewe, ongewaarborg. En geensins regverdig nie. Die grootste korrupte gespuis lewe goed, terwyl die regte goeie ouens (mense soos jy pappa) dit hard tref. Hoe kan mens dit verstaan? Hoe kan mens die skepping verstaan. Hoe kan mens weet wat als nie nog anderkant die sterre lê nie? Hoe sal ons ooit weet wat God presies is? Gees, of mens of gebou of net ‘n wolkagtige skynsel? Dis ons lot as mens. Ons kom hier aan sonder ‘n boekie wat sê hoe als werk en lyk en gaan gebeur. Ons weet amper niks. Ons probeer heeltyd verstaan en sin maak. En dis eintlik die een ding wat ons sommer vroeg moet besef, ons gaan nie als verstaan nie. Sekere goed moet ons net besluit. Soos watter God/god om te dien. Wat ons gaan doen met ons lewens. Met wie ons gaan trou. Of jy nie in iets glo of nie, elke dag word eintlik in geloof gelewe. Die geloof dat dit sal uitwerk, goed gaan, jy genoeg geld gaan maak, gelukkig gaan wees saam met iemand en so meer.

Ek skrywe dalk nou net ‘n klomp wind, maar wat ek eintlik by wil uitkom is die volgende. Moenie vrees nie. Moenie probeer verstaan waarom als so uitgewerk het nie. Ons sal nie nou weet nie. Maar weet dat jy ‘n goeie mens is. Die diepste gelowige wat ek ken. Iemand wat soveel se lewens aangeraak het en help verander het vir goed. Die beste pa. En daarom sal jy beloon word. Want goeie mense word op die einde beloon. Goeie mense gaan nie ongesiens verby nie.

Vir jou pa-wees moet ek jou bedank. Jy het altyd die heel beste vir ons gegun. Groot moeite gemaak en baie geld uitgehaal om ons te versorg. Dankie daarvoor pappa. Dit was nog altyd raakgesien. En as ek nou terugkyk op my lewe sien ek dit steeds raak. Jammer dat dit te min vir jou gesê is.
Ek is dankbaar vir die baie vure wat ons oral gemaak het. Jyt my die reisiger gemaak wat ek vandag is. Dis wonderlik.
Ek weet ‘n ouer het seker ‘n idee van die persoon wat hy of sy wil hê die kind moet wees. En so het jy ook sekere gedagtes gehad van hoe jou seun eendag gaan wees. Wie hy gaan wees, wat hy gaan doen. Ek weet ek is nie heeltemal die verwesenliking (is dit ooit ‘n woord?) van daai gedagte nie. Ek struikel soms oor sekere geloofsdinge, ek trek vreemde hempde aan, soms is my hare lank, ek sukkel om ‘n meisie te kry, ek boer nie, ek luister rock musiek. Maar pappa, ek kan vir jou met alle eerlikheid sê, ek is ‘n goeie mens. Ek soek net goeie dinge en vrede vir die mense om my. Eks lief vir hulle. En vir die natuur. En dis dinge wat jy vir my geleer het. So, jou opvoeding was uiters geslaagd. Moet nie daaroor twyfel nie. En moenie jou bekommer oor my nie. Ek is eintlik ‘n rustige wese en soek net die goeie en die waarheid.

Ek het jou nog nooit veroordeel oor enigiets wat jy gedoen het nie of wat met ons gebeur het nie. Ek dink jyt puik gevaar in baie moeilike omstandigehede baie keer. Ek kyk op na jou.

 

Met baie liefde.
Jou seun

Willem.

1 note

‘n kortstondige vryheid.

Naval Hill, Bloemfontein.

Naval Hill, Bloemfontein.

Swannie Swanepoel - Mangaung Metro se fasiliteerder vir taktiese opleiding. Swaar titel. Hard core.

Swannie Swanepoel - Mangaung Metro se fasiliteerder vir taktiese opleiding. Swaar titel. Hard core.

1 note

The long walk to school - Bloemspruit.